12 November 2005

Huisbesoek in Monrovia

November 2005

Een Vrydagaand vra ‘n vriend van my aan boord, Tom, om saam met hom te ry om ‘n nuwe bemanningslid se bagasie op te tel in die stad. By die Land Rover aangekom ontmoet ek vir Julie, ‘n Mennoniet van Kanada wat vir twee jaar by ‘n Mennonietiese sendingstasie in Monrovia gewerk het. Sy is maar 20 jaar oud, en dra ‘n tipiese Mennonietiese rok en het so ‘n wit doilie op haar kop. Terwyl Tom bestuur en sy bes doen om al die slaggate van Monrovia te mis, leer ek meer by Julie oor haar denominasie en haar twee jaar in Monrovia. Sy verduidelik dat sy by ‘n plaaslike familie gebly het, en is dankbaar dat ons bereid is om al haar bagasie op te tel, andersins sou sy van die plaaslike taxi diens moes gebruik maak. Omdat dit so donker is, ry Tom plek plek deur ‘n slaggat…ietwat onaangenaam vir die agterstewe in ‘n Land Rover.

Julie beduie vir Tom dat hy moet indraai by ‘n pad vanaf die hoofpad waarop ons ry. Nie een van ons kan sien waar die pad is nie, maar soos wat ons draai sien ons ‘n smal paadjie. Soos wat die Rover ligte die klein paadjie verhelder, betree ons die tipiese Vrydagaand lewe van Monrovia. Die straat is gepak met mense wat loop of in groot groepe rondstaan, en oral verkoop mense van vars produkte tot toiletware by klein stalletjies of uit die hand. Hier en daar is daar ‘n verligte plek met harde musiek…tipe van shebeens. Julie verduidelik dat baie klein plekkies video klubs is…iemand het ‘n generator en ‘n TV, en jy betaal om te kyk wat hulle ookal vertoon…meestal sokker of ‘n fliek gemaak in Nigerie. Ek verkyk my aan die massas mense wat loop of net rondstaan…dis nou waarskynlik Liberiese sosiale lewe op sy beste vir die gewone man op straat. Tom ry so stadig moontlik om niemand te stamp nie…dit is duidelik dat voetgangers hier voorrang geniet en daar is net net genoeg spasie vir ‘n motor om te ry. Ons kom by ‘n woonbuurt, en ons ligte skyn op klein blink swart lyfies van kinders wat besig is om te bad uit groot skottels. Uiteindelik kom ons uit by ons bestemming, en soos wat Tom draai om langs ‘n huis te parkeer, skyn sy ligte op ‘n ou vrou besig om ook uit ‘n skottel te bad. Sy gryp haastig ‘n sari, die material wat hulle hier gebruik as ‘n handdoek, om haar toe te maak terwyl ons skaam anderkant toe kyk en Tom haastig die ligte verdoof.

Soos wat ek uitklim, sien ek ‘n klein vuurtjie tussen huise brand…vullis wat verbrand word. Ons volg Julie tussen huise deur wat nie in enige reguit lyn gebou is nie. Dis so donker dat ek glad nie kan sien waar ons loop nie, en Julie gebruik haar selfoon om so bietjie lig te gee. Dis nou een ding wat omtrent elkeen in Monrovia besit…’n selfoon. Hier is geen landlyn telefoonverbindings nie. Julie vertel dat om ‘n selfoon te besit een van die hoogste prioriteite van mense hier is. Ons kom by die huis uit en stap by ‘n sitkamer in met ‘n riet sitkamerstel en koffietafel wat die enigste meubels in die vertrek is sover ek in die swak lig kan uitmaak. ‘n Ou vrou sit op ‘n stoel, met ‘n kerosien lamp wat langs haar brand. Ek en Tom stel onsself voor, en kom gou agter dat sy nie Engels verstaan nie...wel, nie ons Engels nie. Hulle praat ‘n tipe Engels hier wat ons ‘pigeon English’ noem…hulle sluk helfte van die woorde in en praat met so ‘n plat half Amerikaanse aksent. Julie groet mense…sy ken almal hier, en sy praat hulle taal. Nuuskierige klein kinders sit by die deur en vergaap hulle aan ons…ons sien net hulle ogies wat blink. Alles hier is so oop…dit is duidelik dat privaatheid nie so belangrik is nie. Die buurman se radio bler en verskaf vermaak aan die hele buurt.

‘n Jong seun van so 16 jaar kom sit by ons, en ons gesels met hom. Hy sukkel om ons te verstaan, maar ons kan uitmaak dat hy in graad 8 is. Ons vra of hy sokker speel, die gewildste aktiwiteit van seuns, maar hy se nee, hy studeer net. Julie stel ons voor aan die eienares van die huis, Emily, wat baie goed Engels praat. Ons vind uit die ou vrou is haar moeder, en die seun haar jongste broer. Sy vra of ons rys wil he…dit beteken ete.
Ons gaan sit by ‘n tafel met ‘n kers in die middel in ‘n eetkamer wat verbasend vol gemeubuleer is met meestal kitch en boeke. Sy bring twee klein potjies…een met rys wat aanmekaar vassit…dis soos hulle dit hier eet…ons noem dit ‘sticky rice’ op die skip. Die ander potjie het so ‘n bruin sous in wat gemaak is van ‘n bitterbol groente, en gerookte vis, die stapelvoedsel van meeste mense hier. Sy gooi die sous oor die rys in die potjie, en verduidelik dat ons albei so uit die potjie moet eet, want dis hoe hulle hier eet….elkeen met ‘n lepel. Met die eerste proe brand my mond van die sterk kruie en peper wat hulle in alles gooi. Gelukkig het hulle Fanta wat koud is. Die sous is vol grate, en ek probeer soveel grate uithaal as moontlik. Dit proe eintlik lekker as mens eers aan die kruie gewoond is. Soos wat ons eet verduidelik Emily dat omdat hulle nie krag het en kos koud kan hou nie, koop sy ‘n sak rys wat hulle ‘n tyd lank hou, en elke dag gaan koop sy wat hulle vir aandete sal eet…gewoonlik vis en groente (meestal ‘patato leaves’). Vir ‘n spesiale geleentheid koop hulle ‘n vars hoender (dis nou vars soos in lewendig). “Here, gee ons VANDAG ons daaglikse brood.”
Ek komplimenteer haar met haar broer wat verkies om te studeer eerder as om sokker te speel soos al sy ander maats. Sy se dankie, maar omdat hy polio het en kruppel is, kan hy nie sport speel nie. Ek weet nie regtig wat om te se nie…dit was te donker om te sien hoe hy regtig lyk.

Soos wat ons terugry skip toe, wonder ek of wat ek so pas ervaar het, nie naastenby is soos Jesus geleef het nie. Jesus het nie krag gehad nie…Hy het ook van dag tot dag geleef…en Sy huis het waarskynlik nog minder meubels gehad as die een waar ons was. Die mense hier leef vir mekaar…jy is werklik deel van ‘n gemeenskap.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home